Nóg ’n jagluiperd in Indië dood

’n Namibiese lagluiperd genaamd Shaurya is Dinsdag in Indië se Kuno Nasional Park in die Madhya Pradesh-provinsie dood.

Bosboubeamptes in die park het Dinsdagoggend opgemerk dat die mannetjie swak en van balans af is.

Volgens ’n verklaring deur die bosboudepartement het veeartse die jagluiperd verdoof en behandel, maar “komplikasies het ontstaan ná pogings om die jagluiperd te red en die kat het nie op kardiopulmonêre resussitasie (CPR) gereageer nie”.

Die oorsaak van sy dood sal eers na ’n nadoodse ondersoek vasgestel kan word.

Altesaam 20 jagluiperds – agt van Namibië en 12 van Suid-Afrika – is in 2022 in die park hervestig nadat die spesie meer as 70 jaar gelede in Indië uitgesterf het.

Dit is die tiende jagluiperd wat in Kuno sterf. Tot dusver is sewe volwassenes en drie welpies weens verskeie oorsake in die park dood.

’n Jagluiperdwyfie van Namibië, Sasha, het op 27 Maart verlede jaar weens ’n nierkwaal gevrek.

Verlede jaar het die Namibiese jagluiperd, Jwala, geboorte aan vier welpies geskenk nadat sy met Shaurya gepaar het.

Drie van die welpies het egter in Mei 2023 weens uiterste weerstoestande gevrek. Die welpie wat oorleef het, se ma het hom verwerp nadat parkbeamptes hom vir behandeling weggeneem het en moet deur hulle versorg word.

Die laaste Namibiese jagluiperd-vrekte was dié van die wyfie Dhatri nadat ’n moniteringspan haar op 2 Augustus 2023 dood gevind het.

Shaurya en sy broer Gaurav is die eerste twee jagluiperds wat in die park vrygelaat is, maar was ook onder dié wat met nekwonde gevind is. Die broers is in Julie 2023 vir gesondheidsondersoeke na omheinde kampe in die park teruggeneem, waar hulle sedertdien gebly het.

Die Indiese regering het in verklarings volgehou dat die sterftes almal te wyte was aan “natuurlike oorsake”, insluitend “traumatiese skok” en dehidrasie. Jagluiperdkenners het egter verlede jaar gesê septisemie het weens besmette nekwonde sommige van die vrektes veroorsaak en dat een van die jagluiperdvrektes verhoed kon word.

Die Indiese regering het sy hoop oor die projek uitgespreek nadat die Namibiese jagluiperd, Asha, einde Desember die lewe aan drie welpies in die park geskenk het.

Die Jagluiperdbewaringsfonds (CCF) in Namibië onder leiding van direkteur dr. Laurie Marker bied vanaf 28 tot 31 Januarie die Internasionale Jagluiperd-beraad in Addis Abeba, Ethiopië, aan om die uitdagings van die oorlewing van die mees bedreigde katspesie onder die loep te neem.

[email protected]