Thomas se rooi lorrie opgespoor

Thomas Hansen se rooi drieton-Dodge-lorrie wat verlede jaar uit die Swakoprivier verdwyn het, is gevind.

In September 2023 het Chris Hansen, Thomas se seun, agtergekom dat die lorrie weg is. Mense wat onlangs in die Namib-Naukluft Nasionale Park gery het, het die lorrie in die woestyn op die destydse plaas Vlakbank agter ’n bos gevind.

“Die lorrie se kajuit is afgehaal en agter op die bak geplaas. Dit is seker gedoen sodat hulle die lorrie makliker uit die rivier kon sleep. Hulle het die Dodge tot op Vlakbank gesleep en daar agter die bos gelos. Ek vermoed hulle sou hom later kom verwyder het, maar dat die planne ontwrig is nadat die storie op die voorblad van die koerant geplaas is. Ná die storie het almal van die lorrie geweet en dat dit ons lorrie is. Ek is so dankbaar dat die Dodge nou weer in ons familie se besit is en ek sal hom so gou as moontlik na sy finale rusplek neem. Hy sal by my pa se graf staan op ons vorige plaas Salem,” het Chris gesê.

Die lorrie het aan wyle Thomas Hansen behoort, wat in 1975 oorlede en op die plaas Salem begrawe is.

“Die Hansen- en Brockerhoff-gesin het daar geboer. Die Hansen-gesin op die plaas Salem en die Brockerhoffs op die plaas Vlakbank – ’n entjie uitmekaar,” het Chris gesê.

“My pa en sy broer het die lorrie gebruik om water aan te ry, groot items te vervoer en te boer. In die vroeë tagtigerjare is die gebied as die Namib-Naukluft Nasionale Park, ’n natuurbewaringsgebied, verklaar en die mense moes trek.

“Salem en Vlakbank was in die gebied geleë en toe die mense trek, het hulle die lorrie in die Swakoprivier onder ’n boom agtergelaat. Hy het daar gestaan tot hy is September verlede jaar verdwyn het – nou gaan hy Salem toe.”

Chris het as ’n sesjarige plaasjapie in die lorrie gery en volgens hom is dit deel van hulle familie se geskiedenis en moet dit vir die nageslag bewaar word. – [email protected]