DR212-pad in Suide gesluit

Die nasionale Paaieowerheid (RA) het die DR212-pad tussen Aussenkehr en Rosh Pinah tot verdere kennisgewing gesluit. Vloedwaters het dele van die pad verspoel. Dit is veroorsaak deur die hoë watervlak van die Oranjerivier, weens swaar reën in dele van Suid-Afrika, het die RA gesê.

Die versoek is dat reisigers via Keetmanshoop na Aus en Rosh Pinah reis totdat die pad weer veilig is. Verder monitor die RA ook die MR118-pad tussen Rosh Pinah en Oranjemund. Die publiek sal op hoogte van die situasie gehou word.

Enige ander padprobleme kan by die naaste RA-kantoor aangemeld word.

Dié foto wys die skade wat in Januarie aan die DR212 aangerig is toe die Oranjerivier se walle oorstroom het.