NWR bly verbind tot oorgrensparke

Die besturende direkteur van Namibia Wildlife Resorts, dr. Matthias Ngwangwama, was deel van 'n afvaardiging wat vroeg in November Suid-Afrika besoek het om vooruitgang te bepaal in die ontwikkeling van oorgrenstoerismeprodukte en geleenthede binne die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark. Die park is in 2003 gevorm deur die ǀAi-ǀAis-warmbronne en wildlewepark met die Suid-Afrikaanse Richtersveld Nasionale Park te verbind. Die verdrag tussen die twee lande het ten doel om oorgrens-samewerking tussen die twee buurlande, sowel as die doeltreffende bestuur van die ekosisteem in die oorgrenspark te bevorder. Dit onderneem ook om ekotoerisme te ontwikkel om sosio-ekonomiese ontwikkeling op streeksvlak 'n hupstoot te gee. NWR is as lid van die gesamentlike bestuursraad die nasionale implementeringsagentskap in Namibië om toerisme-aktiwiteite en -geriewe in nasionale parke te bestuur.