Drie modelle by Mahindra se Karoo-reeks gevoeg

  • 1 Year Ago
  • TN-Leisure
Die Indiese motorvervaardiger Mahindra doen tans bo verwagting goed in Suider-Afrika. Nie net monteer die maatskappy deesdae sy handratmodel Pik Up bakkies in Durban nie – Mahindra SA het onlangs aangekondig die tienduisendste Pik Up is daar gemonteer – maar hulle het ook ’n fasiliteit aan die Oosrand van Gauteng waar die Karoo modelle se addisionele afwerking en toerusting monteer word.

ahindra het onlangs ook drie nuwe spesiale modelle – Dusk, Storm en Dawn – bekendgestel, elk met sy eie besondere kleur en spesiale ekstra toerusting. Ons was bevoorreg om die eerste drie modelle wat van die monteerlyn gekom het, deur ’n strawwe 4x4 roete te beproef. Al drie modelle is Karoo-weergawes en kom standaard met groter veldrywiele en bande asook ’n swaardiens-veerstelsel. Verder kry al drie modelle spesiaal ontwerpte staalbuffers voor en agter wat toegerus is met versterkte sleephake en LED-ligte. Die buffers is stewig aan die onderstel geheg.

Die gewone rolstaaf wat by Karoo modelle standaard is, is steeds daar. Karoo-kleure Elke model is ook kleurspesifiek en kry spesiale insignia buite en in die kajuit. Die Dusk se swart bakkleur is deur die Karoo-skemer geïnspireer en dra blou en swart Karoo-kentekens. Die laaibak bied swaardiens rubbervoering asook ’n sluitbare staal roldeksel. Die Dawn is afgewerk in ’n praktiese sand kleur wat sekerlik by die buitelug avontuurlustiges en boere gewild sal wees. Die inspirasie vir hierdie model kom blykbaar van die kleure van vroeë oggende in die woestyn en Karoo. Vandaar die oranje kleur van die “Karoo”-kentens binne en buite op hierdie model.

Hierdie model kry bykomend ook ’n spesiale dakrak as deel van die standaardtoerusting. Die derde model in die reeks heet Storm. Ook hier is inspirasie geleen uit die Karoo; spesifiek die stormwolke se kleure wat gelei het tot die unieke ligblou bakafwerking wat gekomplimenteer word met swart en grys “Karoo”-kentekens. Die Storm se laaibak is ook uitgevoer met die swaardiens rubberlaag en die bak word met ’n seiltjie toegemaak. Binne is daar volle leerbekleedsel asook dieselfde rubbermatte soos in die ander Karoo modelle. Al drie modelle spog ’n volkleur 9”-raakskerm met Bluetooth, Android Auto, Apple Car Play en navigasie asook laai/koppelpunte vir fone.

Die nuwe modelle word aangedryf deur dieselfde 2.2 liter turbodieselenjin wat diens doen in die res van die Karoo bakkies. Met 103kW se maksimum kraglewering en 320Nm piek wringkrag wat tussen 1500 en 2800 rpm beskikbaar is, het ons nooit gevind dat die bakkies mank gaan aan te min krag nie, selfs nie tydens ons uitdagende sessie deur dik, los riviersand nie. Die drie modelle stuur krag na al vier wiele met behulp van ’n 6-gang outokas wat ook oor ’n laestrek funksie beskik. Die nuwe modelle is sekerlik van die mooier dubbelkajuitbakkies tans beskikbaar en is heel bekwaam op die pad en in die veld. Teen die prys, in aggenome die hoeveelheid spesiale toerusting wat as standaard ingesluit is, bied die Dawn, Dusk en Storm uitstekende waarde vir geld.