Inligtingsdatabasis vir toerisme bekend gestel

Ellanie Smit

Die Namibië Reis- en Toerismeforum (NTTF) het ‘n toerisme-inligtingsdatabasis (inligtingsbot) op WhatsApp bekend gestel wat daarop fokus om Namibië as ‘n toeristebestemming te bemark.

Dit verskaf inligting op aanvraag oor die land, verskeie regulasies, vlugskedules en stel selfs ‘n gids van geregistreerde Namibiese toerismemaatskappye aan gebruikers beskikbaar.

Volgens die NTTF is die inligtingsbot vir die eerste keer in Julie by die Youth in Tourism Africa-beraad op ‘n toetsgrondslag aangekondig, en kan nou deur die publiek gebruik word.

“Om met die inligtingsbot te begin kommunikeer, stuur eenvoudig ‘n boodskap na die nommer 26485NAMIBIA ( 264 85 626 4242) op WhatsApp, en jy kan dan onmiddellik toegang tot al die nodige toerisme-inligting hê.”

Die NTTF het gesê hoewel baie maatskappye wêreldwyd kletsfunksies op platforms soos WhatsApp, Telegram, Facebook en Instagram gebruik om met kliënte te kommunikeer en nuwe inligting uit te stuur, is hierdie funksie uniek in die sin dat dit uitsluitlik ten doel het om Namibië as ‘n toeristebestemming te bevorder.

Nog ‘n unieke kenmerk is dat dit inligting tot jou beskikking stel sonder om ‘n bykomende toepassing (app) af te laai, of om toeriste enige geld uit die sak te jaag.

NTTF het verlede September ‘n ooreenkoms met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme onderteken om ‘n nuwe reeks inisiatiewe bekend te stel, waaronder digitalisering binne die Namibiese toerismebedryf.

WAARDEVOLLE BRON

‘n Groot bekommernis vir die bedryf was nog altyd verouderde en onakkurate inligting, en daarom het NTTF die betrokke rolspelers betrek om ’n kanaal te verskaf waar hulle hul eie inligting op die databasis kan bestuur en opdateer.

“Hierdie WhatsApp-inligtingbot, tesame met iOS- en Android-apps wat binnekort vrygestel gaan word, sal ‘n interaktiewe en waardevolle bron van inligting vir besoekers en Namibiërs wees.”

Die selfoontoepassing is in die goedkeuringsfase en sal gratis via Apple en Google Play afgelaai kan word.

Dit bevat inligting oor meer as 5 600 geregistreerde Namibiese toerismemaatskappye, ontspannings- en ander aktiwiteite, inkopies, plaaslike kookkuns, en sal die eerste toepassing wees om Namibiese toergidse, kunsvlyt- en geskenkwinkels en restaurante te lys.

Onder die inhoud wat reeds via die inligtingsbot beskikbaar is, is reisinligting; visum- en aankomsregulasies; Covid-19-regulasies en toetsgeriewe; internasionale en binnelandse vlugskedules sowel as padgrens- en gesondheids- en veiligheidsinligting.

Noodnommers oraloor Namibië; weervooruitsigte; bestuur- en padafstande; inligting rakende verfilming en die gebruik van hommeltuie; asook permitvorms en ander toerisme-inligting sal ook beskikbaar wees.