Voortrekker-grafte bly dalk in slag vir ontwikkeling

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is tans besig met ’n versoekskrif teen die moontlike verwydering van Voortrekker- en ander erfenisgrafte in Pietermaritzburg om vir ’n ontwikkeling plek te maak.

Meer as 600 handtekeninge ter ondersteuning van die versoekskrif is reeds teen Maandag ontvang, sê Ziegfried van Huyssteen, adjunk- uitvoerende hoof van die FAK.

Die Msunduzi-munisipaliteit, wat die gebied bedien, sê in ’n mediaverklaring sy uitvoerende komitee het op ’n vergadering op 20 Oktober besluit om ’n aanbeveling aan die volledige raad voor te lê dat ’n konsultasieproses met alle rolspelers (binne en buite die munisipaliteit) moet begin oor die moontlike verwydering van die grafte om vir die ontwikkeling plek te maak.

“Die raad moet nog hierdie aanbeveling oorweeg,” sê die munisipaliteit. “Indien die planne wel uiteindelik realiseer nadat ’n deeglike en deursigtige konsultasieproses gevolg is, sal ’n herinneringsmuur opgerig word met die name van almal wat in die begraafplaas begrawe is. Indien dit nie realiseer nie, sal die munisipaliteit voortgaan om die begraafplaas in stand te hou. ’n Nuwe heining is onlangs opgerig.”

Die Chief Albert Luthuli-gedenkbegraafplaas is sentraal in Pietermaritzburg geleë. Dit huisves verskeie Voortrekker-grafte van tot so lank as 180 jaar gelede, onder meer dié van die Voortrekker-predikant Erasmus Smit en sy vrou, Susanna. Die seun van die Voortrekker-leier Louis Tregardt, is ook daar begrawe. Susanna Smit was wyd bekend as ’n volksheldin. Haar bekende woorde “ek sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge loop as om onder Britse oorheersing te wees”, is diep in die geskiedenis van die Afrikaner vasgelê.

Die begraafplaas huisves ook grafte van veterane van die Tweede Wêreldoorlog, asook dié van voormalige burgemeesters en hoofde van die bekende Maritzburg-kollege. Swart en bruin Suid-Afrikaners, sover bekend meestal onbekendes, is ook daar begrawe.

Die begraafplaas het as die Commercial Road- of Pietermaritzburg-begraafplaas bekend gestaan voordat dit na Albert Luthuli genoem is. Die sogenaamde Voortrekker-begraafplaas met die Voortrekker-grafte is in die suidelike gedeelte van die begraafplaas.

Die FAK het vroeg in November ’n brief aan Lulamile Mapholoba, munisipale bestuurder van die Msunduzi-munisipaliteit, geskryf om die organisasie se misnoeë te kenne te gee met die planne om die begraafplaas “te vernietig” en om te eis dat die planne onmiddellik gestaak word.

Volgens Van Huyssteen het Mapholoba ontvangs erken en onderneem om ’n afspraak met die rolspelers te maak, maar dit het nog nie gebeur nie. Die FAK wag ook nog op antwoorde van die munisipaliteit oor wat presies met die grafte beoog word indien die ontwikkeling voortgaan. Dis nie duidelik of net die grafstene of ook die oorskot ondergronds verwyder sal word en wat dan met sowel die grafstene as oorskot sal gebeur nie.

Volgens die Erfenisstigting (ES) is die beoogde ontwikkeling strydig met die Nasionale Wet op Erfenishulpbronne van 1999, asook met die Verenigde Nasies (VN) se Burra-handves van 1999 en die Venesië-handves van 1996. Albei dié handveste is deur die VN se Internasionale Raad van Monumente en Terreine ontwikkel. Suid-Afrika is ’n lidland van dié raad.

Jaco Cilliers, hoof van erfenis en bewaring van die ES, sê die ES en FAK sal as ’n Afrikaner-belangegroep betrokke wees by alle besprekings oor die lot van die begraafplaas sodat Afrikaners se stemme “teen die vernietiging van Voortrekker-grafte duidelik gehoor kan word”.

Die ES is ’n organisasie sonder winsbejag wat hom vir erfenisbewaring in Suid-Afrika beywer.

In sy mediaverklaring oor die ontwikkelingsplanne sê die munisipaliteit dat deel van sy voorlegging aan die raad is om die samestelling van ’n maatskaplike-fasiliteringskomitee goed te keur. Tydens die maatskaplike-fasiliteringsproses sal die geskiedenis van die begraafplaas ondersoek word, asook die lewensvatbaarheid om die grafte te verwyder sodat die grond ontwikkel kan word.

“Die munisipaliteit neem kennis van mediaberigte oor die kwessie en hou boek van alle partye wat standpunte oor die voorlegging het,” lui die munisipaliteit se verklaring. “Ons sal gedurende die konsultasieproses met al hierdie partye praat.”