Obab-leeuwyfie hou steeds vakansie op Torrabaai

Die woestynleeu-wyfie wat die afgelope vakansieseisoen op Torrabaai gekuier het, maak klaarblyklik steeds geen aanstaltes om die gebied te verlaat nie.

Die Desert Lion Conservation Trust se dr. Philip Stander het verlede week bevestig dat die Obab-leeuwyfie (Xpl-108) ‘n hele nag en dag by die Raleigh-fontein gebly het, waar sy selfs ‘n springbok probeer jag het. Sommige toeruste wat verby gery het, was gelukkig genoeg om haar raak te sien,” het die Trust verlede week op hul Facebook-blad laat weet.

Dit volg nadat die leeuwyfie in die 13 dae tussen 18 en 30 Desember in totaal 170 km ver geloop het tussen die kus en die Uniab-delta, teen ‘n gemiddelde spoed van sowat 12,1 km per dag.

In die laaste dae van 2022 het dit gelyk of sy terug binneland toe wou gaan, maar op 6 Januarie het sy reguit teruggeloop strand toe en ‘n rob gevang. Terselfdertyd het die trust asook amptenare van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme hengelaars gevra om die strand te verlaat, sodat sy onverstoord kon rondbeweeg.

Dit het ook aan dr. Stander die geleentheid gebied om Xpl-108 te minitor en seldsame inligting oor woestynleeus se gedrag aan te teken.

Van die leeuwyfie se ander avonture tydens die afgelope vakansieseisoen in die Torrabaai-omgewing, sluit in dat sy op 29 en 30 Desember ‘n trop gemsbokke vir bykans 14 ure lank oor ‘n afstand van sowat 13,6 km agterna gesit het – gedurende die hitte van die dag tot binne in die duine.

Uiteindelik het sy moed opgegee en in die skaduwee van ‘n rots gaan rus, voor sy op Oujaarsdag teen middernag tot by die Uniab-rivier geloop het. Hier het sy vir sowat 10 km ooswaarts geloop, voor sy waarskynlik leeus van die Achab-trop teegekom het. Op 1 Januarie het sy skielik omgedraai en vinnig, vir 24,2 km, in die rigting van die Uniab-delta beweeg. Daarna het sy vir ‘n dag lank op 2 Februarie tussen die duine gerus.

Die trust het op 23 Desember verlede jaar laat weet dat Xpl-108 op 18 Desember teruggekeer het na die kus toe. Met haar aankoms by die kus, het sy ‘n robwelpie gevang en noordwaarts strandlangs beweeg, tot waar sy op ‘n dooie haai ge-aas het en daarna ook ‘n groter rob gevang het.

Die Trust sê haar vinnige en onverwagse aankoms by Torrabaai het hulle ietwat onverhoeds betrap en hulle kon nie betyds sekere dele van die kus afblok nie.

Sy het glo ook vakansiegangers se voertuie en hengelaars op die strand opgemerk. Dit het daartoe gelei dat sy die groot karkas van ‘n rob vir meer as 3 km oor ‘n soutpan gesleep het tot tussen wit granietkoppies, waar sy veilig daaraan kon smul.

KWESBARE LEEUS

Oor die afgelope jare het verskeie groepe woestynleeus die kus besoek en “seekos” geëet, wat hoofsaaklik uit Kaapse pelsrobbe vestaan het wat van die Koigab-robkolonie kom en tussen die Uniab-delta en die Hoanib-riviermond voorkom.

“Die ontdekking van robbe en ander ‘seekosse’ deur die woestynleeus is ‘n beduidende ontwikkeling vir hulle – beide vanuit ‘n biologiese- en bewaringspunt,” skryf die trust op hul webwerf.

“Dit is een van die min plekke op aarde waar ‘n landelike karnivoorspesie se voedselbron oor twee verskillende tropiese sones strek. Dit is voordelig vir die vloei van voedingstowwe tussen die twee sones, maar ook belangrik vir globale voedselnetwerke.

“Woestynaangepaste leeus se ‘tuisvelde’ strek oor groot gebiede, wat hulle help om aan te pas by die klein variasie en lae beskikbaarheid van prooi.

“Die leeus se besoeke aan die kus het egter ook intussen al tot mens-dier-konflik gelei,” verduidelik die trust. “Die leeus wat egter begin het om voedsel langs die kus te benut, het sover nog nie teruggekeer na die bewaringsgebiede waar mense met beeste boer nie.

“Dit is belangrik vir die bewaring van die woestynleeu-bevolking dat hulle aanhou om toegang tot voedsel langs die kus het – as ‘n alternatief tot boere se beeste as ‘n voedselbron.

“Die versteuring van leeus, wanneer hulle by die kus is, is ‘n groot bron van kommer wat beteken hulle mag voorts dalk die gebied begin vermy. As gevolg van die uiterste weerstoestande langs die kus, is die leeus baie kwesbaar en het hulle nêrens om weg te kruip nie,” sê die trust.

BESTUURSPLAN

Volgens die trust was daar in die 2021 – ’22 vakansieseisoen gevalle waar hengelaars en nog ‘n leeuwyfie konflik ervaar het en sy aggressief begin raak het en voertuie bestorm het.

Die ministerie en die trust werk saam om potensiële voorvalle van konflik te takel en het ook ‘n bestuursplan en –protokol ontwikkel om konflik te voorkom. Hulle het ‘n beroep gedoen op besoekers aan die kus om gehoor te gee hieraan – beide vir hul eie veiligheid en ook om te help om die unieke leeubevolking van Namibië te beskerm.

Dit sluit in dat alle leeus met nekbande toegerus word, dat hulle uurliks gemonitor word, dat dele van die kus gesluit word wanneer leeus aan robvangste eet die jongste inligting oor die leeus en hul bewegings altyd met Torrabaai se bestuur gedeel sal word.

Verder moet toeriste na van hoofpaaie afwyk nie, nie snags rondloop nie en dat voertuie tussen sononder on sonsopkoms in die kamp te wees.