Plaaslike jagluiperds vang prooi in Indië

Twee Namibiese jagluiperds wat in Indië hervestig is, het hul eerste prooi in die Kuno Nasionale Park gevang.

Die broers Elton en Freddie is deel van agt jagluiperds wat die Namibiese regering aan Indië geskenk het nadat Indië in 1952 die Asiese jagluiperd as uitgesterf verklaar het.

Werknemers van die park wat die broers monitor, het op 8 November op die eerste oorblyfsels van ’n volwasse takbok afgekom.

Twee dae later het hulle op nog oorblyfsels afgekom, en in die volgende paar dae op oorblyfsels van nog twee karkasse.

Met die twee maande herdenking vandat die jagluiperds in Indië aangekom het, het dié nuus opspraak in bewaringskringe gemaak.

“Die jagluiperds weet hoe om die ingewande en maag te skei sonder om dit te skeur, maar anders as die luiperd, sleep hulle nie hul prooi ver weg nie,” het dr. MK Ranjitsinh Jhala, voorsitter van Project Cheetah, gesê.

“Die nuus van hierdie suksesvolle jag het my dag gemaak.”

Die laaste keer wat die twee jagluiperds suksesvol gejag het, was in Julie in Namibië voordat hulle gevang en vir hervestiging voorberei is. Vandaar af en tot vroeg in November toe hulle na ’n boma geskuif is, is die luiperds gevoer.

Binne 36 uur ná hul hervestiging het hulle hul eerste prooi gevang. Binne tien dae in die boma het hulle vier volwasse takbokke gevang en is hul kos nie aangevul nie.

“Ons hele jagluiperdspan is so bly om te hoor Elton en Freddie jag nou gereeld. Om ’n nuwe prooispesie as kos te herken, is ’n goeie aanduiding dat hulle by hul nuwe omgewing aanpas. Dit is die eerste keer dat ’n jagluiperd suksesvol in Indië in meer as 75 jaar gejag het,’ het dr. Laurie Marker, stigter en uitvoerende direkteur van Cheetah Conservation Fund (CCF) en adviseur van Project Cheetah gesê.

Die Indiese premier, mnr. Naendra Modi, wat die jagluiperds persoonlik in die Kuno Nasionale Park verwelkom het, het ’n kompetisie van stapel gestuur waar mense Indiese name vir die agt Namibiese jagluiperds kan voorstel, asook ’n nuwe naam vir Project Cheetah.

Meer as 32 500 inskrywings is ontvang. Volgens berigte in die Indiese media sal die uitslae binnekort bekend gemaak word. Die wenners ontvang ’n prys om die jagluiperds te gaan besoek sodra dit toelaatbaar is.