Jagluiperds kry skuld vir knopvelsiekte in Indië

’n Staatseenheid in die Indiese nasionale kongres het jagluiperds “van Nigerië” die skuld gegee vir ’n vermoedelike uitbreking van knopvelsiekte in Indië.

Luidens berigte in dié land het mnr. Nana Patole, president van die Maharashtra Pradesh-kongreskomitee, gesê die knopvelvirus word in Indië versprei deur agt jagluiperds – wat eintlik van Namibië kom – as deel van ’n sameswering teen Indiese boere.

“Om die boere skade te berokken, het hierdie regering doelbewus hierdie reëling getref,” het hy gesê. Sy argument was gegrond op die feit dat knopvelsiekte al lank in Nigerië voorkom.

Ander politici het egter die stelling as belaglik en ongegrond bestempel en Patole gekritiseer omdat hy nie eens geweet het waar die jagluiperds vandaan kom nie.

INGEëNT, IN ISOLASIE GEHOU

Sowat twee weke gelede is agt Namibiese jagluiperds op ’n 11 uur lange vlug na Madhya Pradesh se Kuno Nasionale Park vervoer.

Voor die vlug is die jagluiperds almal ingeënt en toegerus met satelliethalsbande, en in isolasie gehou by die Cheetah Conservation Fund-sentrum in Otjiwarongo.

Die uitbreking van knopvelsiekte in Indië is in Julie bevestig en het teen middel September meer as 67 000 beeste oraloor die land doodgemaak.

Die virussiekte, wat beeste affekteer, word oorgedra deur bloedsuiende insekte soos sekere vliegspesies en muskiete, of bosluise.

Dit veroorsaak koors, knoppe op die vel en kan ook tot vrektes lei, veral by diere wat nie voorheen aan die virus blootgestel is nie. Opsies om die virus onder beheer te bring sluit inenting en die slagting van besmette diere in.

Mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, het Dinsdag gesê die ministerie is onbewus van die berigte.