Nuwe rotstekeninge naby Omaruru ontdek

  • 1 Year Ago
  • MW Classifieds
N/a'an ku sê het in sy jongste nuusbrief bekendgemaak dat verskeie nuwe rotstekeninge uit ‘n “fassinerende verlede” onlangs op hul TimBila-natuurreservaat ontdek is.

Die rotstekeninge is opgemerk deur een van die reservaat se koördineerders tydens ‘n staptog saam met vrywilligers. Verdere soektogte deur vrywilligers het tot die ontdekking van nog meer rotstekeninge gelei.

TimBila se bestuur het toe die Nasionale Erfenisraad van Namibië hiervan in kennis gestel, wat op die beurt ‘n behoorlike ondersoek kom doen het.

“Tot dusver is 36 verskillende plekke gevind met ongeveer 65 individuele tekeninge. Dit is noukeurig opgeteken.

“Sommige van die tekeninge is reeds deur die vorige eienaars aan TimBila se span uitgewys. Die meerderheid van die rotstekeninge is egter opwindende nuwe ontdekkings.

“‘n Argeoloog sal binnekort verdere navorsing oor die rotstekeninge kom doen,” het N/a'an ku sê gesê.

TimBila, wat sowat 25 000 ha groot is, is 45 noordoos van Omaruru geleë. Dit word gebruik om sogenaamde probleemdiere, of diere wat konflik veroorsaak, te huisves.